Die volgende gebed is gebore uit my worsteling met die Here oor grondhervorming. Op grond van die Skrif is ek oortuig dat ons vir en namens ander by God kan intree (vgl. Genesis 18:16-33; Numeri 14:1-20; Nehemia 1:4-11; Jesaja 53:11-12 en Lukas 23:34). Daarom bely ek die oorsaak van dié krisis namens landbouers. Ek doen dit al vir jare, en sal dit aanhou doen. Die Here vergewe, maar ek doen dit omdat daar steeds mense is wat weier om sonde te bely. Ander mense is bitter en seer en weier steeds om te vergewe. Die gevolge van sonde duur voort lank nadat dit al vergewe is. Belydenis en vergifnis bring vryheid. Daarom doen ek ’n beroep op elkeen wat hierdie gebed lees om saam met my vir die landbou in die bres te tree (vlg. Esegiël 22:30-31). Die Here moet vir ons ’n nuwe bedeling gee waarin alle landbouers in vrede en harmonie tot sy lof en eer en tot voordeel van ons land, saamboer. Jy hoef nie elke keer die hele gebed te bid nie. Verskillende sake kom in verskillende paragrawe voor. Jy kan soms slegs een of twee sake by jou gebed insluit.
Here, ek aanbid U as dié Een aan Wie ál die grond behoort (Levitikus 25:23; Psalm 24:1 en 60:8-10). Net U alleen kan ons raad en leiding gee oor hoe om die grondkrisis in ons land aan te spreek en op te los (vgl. Numeri 27:1-11, veral vers 5).
Vader, ek erken dat baie die probleem wil oplos sonder om die sonde wat dit veroorsaak het, te bely. Ek bely vandag al die onreg van die verlede. Ek bely dat baie deur die ideologie van apartheid en gepaardgaande wette, hulle grond onregmatig verloor het. Apartheid het hulle beroof van hulle reg en voorreg om grond te besit. Here, ek erken dat dit groot pyn en hartseer in die lewe van baie veroorsaak het. Ek erken dat dié stelsel ook blanke landbouers op verskillende maniere onregmatig bevoordeel het. Dit het veroorsaak dat daar steeds ’n groot ongelykheid in grondbesit is. Dit het ook bygedra tot die ongelykheid in boerderyvaardighede waarmee ons worstel.
Soos Nehemia (1:4-8) bely ek dat ek en my huis teen U gesondig het. Ons is ook op verskeie maniere, direk en indirek, verantwoordelik vir die onreg van die verlede en die ellende in die hede. Ons is bevoordeel bo baie van ons landgenote.
As landbouers bely ons dat ons die grond wat U aan ons toevertrou het, nie altyd bewoon, bewerk of bewaar in ooreenstemming met U opdrag nie (Genesis 1:27-29 en 2:15). Sommige verwoes en vertrap die aarde deur gierigheid. Ander is onkundig en/of lui en is nie goeie rentmeesters van U grond nie. In baie gevalle ontheilig ons u grond en word dit onvrugbaar deur slegte verhoudinge en geweld, seksuele losbandigheid, gods-dienstige rituele en okkultiese handelinge wat U uitdruklik in u Woord verbied (Levitikus 18 met spesifieke verwysing na vers 25 en 28; Deuteronomium 18:9-14 en 28:15-68; Psalm 107:33-34; Jesaja 8:19-22; Hosea 4:1-3). Die land spoeg ons uit en gooi ons af vanweë ons goddelose lewe. Ons is onwillig om te erken dat ons sélf dikwels die oorsaak van ons ellende is. Vergewe ons asseblief (Esegiël 36:24-32).
Here, ons bely ons onvermoë en onkunde oor hoe om van die ou na die nuwe bedeling oor te gaan op ’n manier wat regverdig en billik teenoor almal is. Ons bely dat rassisme, bitterheid, moeds-willigheid, wraak, vergelding, verwaandheid, misbruik van mag, selfverontskuldiging en selfreg-verdiging, gruwelike veralge-menings en valse beskuldigings, eiebelang en gierigheid in baie gevalle nog ’n groot rol speel. Ons bely dat hierdie onbybelse gesindhede en optrede aan albei kante voorkom: dié wat grond besit, en dié dat grond wil hê. Ons bely ons onvermoë om dié probleem met Goddelike wysheid (Jakobus 3:13-18) te hanteer, en eerlik en effektief ’n wen-wen- oplossing te onderhandel.
Jesus, ons almal wil tog so graag ander die skuld gee vir alles wat in die landbou verkeerd is … gewoonlik ander bevolkings-groepe. Help ons asseblief om vandag daarmee op te hou. U het al ons skuld, ook wat grond en grondregte betref, op Uself geneem en ons vrygespreek (2 Korintiërs 5:20-21 en Jesaja 53:4-5 en 11-12).
Here Jesus, U is die Oorwinnaar oor elke bose mag. Bewaar en beskerm ons asseblief teen Satan en sy bose magte. Ons weet hy is ’n leuenaar, dief en mensemoordenaar van die begin af (Johannes 8:44). Hy gee vals oplossings om daardeur chaos en ellende in die landbou en die land te skep. Ons bid teen elke poging van Satan om ons te mislei om hierdie krisis op verkeerde maniere te probeer oplos. Ons bid teen selfsug, jaloesie, naywer en afguns tussen alle rolspelers. U Woord leer ons dat hierdie gesindhede demonies is (Jakobus 3:14-15).
Gee asseblief Goddelike wysheid aan alle rolspelers, veral aan leiers wat planne en strategieë opstel. Maak hulle opreg: vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye met die wat hulle grond kan verloor en die wat steeds nie grond besit nie (Jakobus 3:16-18). Laat hulle lewe gekenmerk word deur die vrug van die Gees (Galasiërs 5:22-23). Here, ons bid vir onpartydigheid en geregtigheid. U kan dit doen, want by U is daar nie onreg en bevoordeling en korrupsie nie (2 Kronieke 19:7)!
Seën ons asseblief met leiers wat vir die landbou sal wees soos die reën vir die plante, soos swaar reëns wat die aarde deurdrenk. Leiers onder wie se leierskap die reg sal floreer en die landbou groot voorspoed sal beleef (vgl. Psalm 72:1-7).
Vader van genade, al is ons nie bymekaar nie, verenig ons in gebed en belydenis hieroor. Ons tree in vir alle landbouers – ook vir hulle wat U nie ken of dien nie. Ons pleit: Reinig ons harte, ons hande en ons grond van al die onreg wat ons al bedink het; al die kwaad wat ons al gedoen het; al die verwoesting wat ons al gesaai het. Here, ons is jammer! In plaas van reg, het ons onreg gesaai. In plaas daarvan om vir almal ruimte te maak, het hoofsaaklik een groep grond- en huiseienaars geword (Jesaja 5:8; Esegiël 46:16-18). In plaas daarvan om na mekaar te luister (Jakobus 1:19), het ons soos dwase gedurig probeer om ons eie opinie op ander af te dwing (Spreuke 18:2). Ons pleit by U: Gee ons die kennis, die wil en die hulpbronne om reg te maak wat ons verbrou het.
Vader, U het vir Besaleël en Oholiab deur u Gees toegerus om met vaardigheid, insig en verstand die kunswerk vir die tent van ontmoeting te maak. U het hulle ook die begaafdheid gegee om ander as vakmanne op te lei (Eksodus 35:30 tot 36:1). Vader, doen asseblief vandag vir ons dieselfde! Ons pleit dat U in hierdie tyd Christenboere, en ook vir Amos, deur u Gees die gawe en besondere vermoë sal gee om ’n nuwe geslag bekwame landbouers op te lei. Vader, ons kan dit nie sonder U doen nie. Ons kan hulle nie suksesvol mentor met ons natuurlike vermoëns nie. Ons het spesifieke gawes van u Heilige Gees nodig. Ons het u Gees en u gesindheid nodig!
Here, U het ons gemaak. Alles wat ons het, kom van U af en behoort steeds aan U (1 Kronieke 29:10-16). Maak ons gewillig om ’n bydrae te lewer om van grondhervorming en die bemagtiging van landbouers ’n sukses te maak. Maak ons mededeelsaam soos die vroeë Christene (Handelinge 2:44-45 en 4:32-37, asook 2 Korintiërs 8:12-15). Help ons om te glo dat U steeds baie goed vir ons sal sorg al deel ons dit wat ons ontvang het, met ander (2 Konings 4:42-44. Lees ook Deuteronomium 15:1-18, veral verse 12-18).
Heilige God, ons smeek U, gee asseblief vir die hele Afrika ’n grond- en landboubedeling waarin u wil geskied en u Naam lof, eer en dank ontvang. Maak Living and Farming God’s Way die begeerte, strewe en kenmerk van elke landbouer in ons mooi land.
Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus, ons Here en Koning.
Amen