Bemoediging vir ons landbouers

In ’n tyd soos hierdie waar soveel boere plat geslaan is deur omstandighede wat buite hulle beheer is, wat strek van plaasaanvalle, droogte, swakker as verwagte oeste, of goeie produksie maar swak markte, wil ons julle graag deur hierdie brief bemoedig.

’n Bybelse perspektief op ons
lyding en roeping.

Hennie Viljoen
9 Februarie 2018

Medeboere en Vriende,
Elke plaasaanval en elke moord ruk my tot stilstand. Dit het ook aan die einde van November gebeur toe Riaan Scheepers, boer en Amos-visiedraer op Alexandria, verskriklik wreed aangeval is. Nadat hy byna ’n maand lank in ’n koma was, het hy aan sy beserings gesterf. Familie en vriende, ook ek, is oorweldig deur pyn en hartseer. Deesdae is plaasaanvalle skrikwekkend wreed!
Ek weet dat ’n mens, wanneer daar rou smart in jou hart is, nie verduidelikings en verklarings soek nie. Jy het ’n emosionele behoefte – ’n behoefte aan nabyheid, begrip, aanraking. Jy wil sê hoe jy voel en wil net hê iemand moet by jou sit sonder om te praat of te preek (Job 2:13). Ek verstaan dit. Ek wil jou aanmoedig om voluit te rou, want dis nóú die seisoen van trane (Prediker 3:4). Maar wanneer die tyd van rou verby is, wil ek jou aanmoedig om verder te lees.
Die aanval op Riaan, asook die geweldige droogte en enorme verliese wat daarmee saamgaan, bring nie net intense pyn en lyding nie, dit stel my en jou ook voor intense versoekings. Die Griekse woord “peirasmos” kan met beide beproewing (soos in 1 Petrus 1:7) of versoeking (soos in Lukas 4:13) vertaal word, want die Grieke het verstaan dat elke vorm van lyding ook ’n versoeking is. ’n Toets wat jy kan slaag of druip. Daarom is dit goed om tot stilstand te kom.
Dis asof dieselfde vrae soos ’n voorbarige mens, hulle skaamteloos aan my opdring en sê: Hier is ek weer! Jy sal my nog ’n keer in die oë moet kyk en ’n antwoord móét gee: Wat is die sin van die lewe? Waar was God? Waarom gebeur slegte goed met goeie mense? Waarom word liefde met haat beantwoord? Wat help dit om die Goeie Nuus (Evangelie) aan mense te bring? Wat lê agter plaasaanvalle? Waarom ..? Wat ..? Wie gaan ..?
Wanneer my oë vol trane en my hart vol vrae is, kry ek altyd dadelik ’n besoeker. Hy het baie name: Leuenaar, Dief, Beskuldiger, Mensemoordenaar, Brullende Leeu. Dikwels herken ek hom nie, want hy kom in die gedaante van ’n engel van die lig of van gewone mense, selfs van vriende met mooi boere-name soos Petrus (vgl. 2 Korintiërs 11:14 en Matteus 16:23). Eie aan sy aard bedien hy my dan met vals en verkeerde oplossings. Hy is immers nie tevrede dat ek ly nie, hy wil hê ek moet in my lyding teen God sondig (Job 2:9). Hy wil my van God vervreem. Daarom verander hy my lyding in ’n versoeking! Satan kom steel my vrede en bedien my met vrees. Hy weet bang mense trap maklik in sy strik en vertrou nie op die Here nie (Spreuke 29:25 en Openbaring 21:8). Hy verwoes my drome en ondergrawe my hoop. Hy weet hoe pateties mense sonder hoop is (Spreuke 18:14). Hy sê: Word rassisties en baklei met mense, terwyl God sê ons stryd is teen die bose geeste in die lug (Efesiërs 6:12). Hy sê: Gebruik krag en geweld om die moeilikheid op te los, terwyl God sê ons moet dit deur sy Gees doen (Sagaria 4:6). Hy sê: Jou goeddoen sal nie ’n einde aan dié boosheid bring nie, terwyl God sê ons moet die kwaad deur die goeie oorwin (Romeine 12:21). Hy sê: Kyk na die getalle, julle staan nie ’n kans nie, terwyl die Woord sê oorwinning is nie van getalle nie, maar van gehoorsaamheid aan God afhanklik (1 Samuel 14:6). Hy sê: Dis net teen julle as boere gemik, terwyl Petrus sy lesers daaraan herinner dat dwarsdeur die wêreld ons medegelowiges dieselfde soort lyding moet verduur (1 Petrus 5:9b). Hy sê: Dit gaan oor grond, terwyl die Woord sê die eintlike konflik is tussen lig en duisternis (Johannes 3:19-21). Hy sê: Dit gaan oor oorlewing, terwyl die Woord sê dat daar ’n taak en ’n roeping is waarvoor ons bereid moet wees om te sterwe (Handelinge 20:24 en Openbaring 12:10-11). Daarom moet ek en jy baie mooi dink. Hier is méér op die spel as wat uit die moordtoneel, die ondersoek of die hofsaak blyk. Daarom wil ek graag iets sê oor ons roeping én oor lyding. Mag dit my en jou help om in ons smart en woede steeds die regte keuses te maak.

Lyding

Na die moord op my broer in September 1984, het ek ’n Woord-studie oor lyding en swaarkry gedoen. Dis onmoontlik om my bevinding in ’n bladsy of twee op te som, maar ek probeer dit so goed as moontlik doen. Lees alles, want die antwoord lê nie in ’n sekere punt nie, maar in die geheel-perspektief. Die Bybel gee ’n meervoudige perspektief op lyding. Nie ’n enkelvoudige of éénvoudige antwoord nie. Daar is talle tekste in die Woord wat vanuit verskillende hoeke lig op hierdie moeilike vraagstuk werp.

1. Wie is betrokke in ons lyding en swaarkry?

Mense is geneig om ’n keuse tussen drie moontlikhede te maak. Dis óf God, óf Satan, óf mense. As ons die hele Bybel lees, is dit duidelik dat ons nie ’n keuse tussen die drie kan maak nie. In elke lyding-situasie is God én Satan én Mens betrokke. Maar elkeen is betrokke in ooreenstemming met sy aard en karakter.
God se aard en karakter verander nie wanneer Hy in ons lyding betrokke is nie. Hy bly heilig, regverdig, genadig, barmhartig, goed, vol liefde en almagtig (Klaagliedere 3:31-33; Jona 4:2). Hy is wie Hy is (Eksodus 3:14). Daar is geen donkerkant en geen sonde in God nie (1 Petrus 1:16 en 1 Johannes 1:5).

Satan bly die versoeker, beskuldiger, aanklaer, leuenaar, moordenaar, verwoester en brullende leeu wat soek na iemand om te verslind. Dit is dus duidelik dat Satan en God se betrokkenheid radikaal verskil, omdat hulle aard en karakter verskil. God word nie boos en satanies wanneer Hy in ons lyding betrokke is nie. Die volgende kan as ’n voorbeeld dien, selfs al het die beeld tekortkominge. Die wond wat ’n chirurg my in die teater gee, is in ooreenstemming met die aard en karakter van die chirurg. Dis goed en in belang van my genesing. Wanneer ’n boosdoener my op straat met ’n mes aanval, is die wond in ooreenstemming met sý aard en karakter. Dis sleg! Hy wou my beseer of doodmaak. Maar uiterlik lyk die twee wonde dieselfde. Dit is baie belangrik om te onthou dat Satan ’n versoeker en ’n leuenaar is (Johannes 8:44). Hy is nie tevrede dat mense ly nie. Hy wil hê dat mense in hul lyding teen God moet sondig. Hy bied allerhande vals en verkeerde oplossings aan. Wanneer mense dit aanvaar word hulle ellende groter en gee hulle aan die Leuenaar die geleentheid om weer nuwe, vals oplossings aan te bied. ’n Bose kringloop ontstaan. Satan lei hulle al dieper in ellende totdat hy hulle van God vervreem het, heeltemal met haat vergiftig het en fisies doodgemaak het. Daarom is dit so belangrik om nie oorhaastig op lyding (bv. ’n plaasaanval of natuurramp) te reageer nie. Wees versigtig – versoekings en verkeerde oplossings is soos landmyne oral geplant. As jy daarop trap, is die gemors nog erger.
Die wyse waarop die mens betrokke is, hang grootliks af van sy keuse vir of teen God. Later meer daaroor.
God is dus nie onbetrokke óf alleen betrokke in ’n plaasaanval of droogte nie. Hy is ook betrokke, maar in ooreenstemming met sy aard en karakter. En die Skrif is duidelik – God het nie ’n skadukant nie. Daar is niks boos of donker in Hom nie (1 Johannes 1:5)! Ek en jy hoef dit nie te verstaan nie. Ons móét dit net glo! In elke lyding-situasie is God én Satan én die mens betrokke, maar elkeen is betrokke in ooreenstemming met sy aard en karakter.

2. Hoe kom lyding by my en jou uit? Langs watter pad kom dit?

Weereens gee die Bybel ’n meervoudige antwoord.
Lyding daag dikwels gelyktydig langs een of meer van vyf verskillende paaie by ons op.

2.1 Die eerste moontlike pad is my eie sonde. Sonde het altyd slegte, negatiewe gevolge. Sonde maak seer! Hoe meer sonde, hoe meer pyn. Dis geen geheim. Kyk maar rondom jou. As ek te veel drink, maar nogtans bestuur en my hand in ’n ongeluk verloor, is dit duidelik die gevolg van my eie sonde. Om dan die skuld op God of Satan te plaas, is sinloos. Soms is die verband tussen my sonde en my lyding baie duidelik, maar soms is dit vaag.
Die moontlikheid bestaan dus altyd dat ’n plaasaanval die gevolg kan wees van mý sonde – een of ander vorm van onreg óf geweld wat ek vroeër gesaai het. Alle lyding, en spesifiek elke droogte of plaasaanval, konfronteer my en jou dus weer met die vraag: Is daar sonde in ons lewe wat bely moet word? Is daar vuil gedagtes, verborge motiewe, lelike en/of rassistiese woorde, of slegte gewoontes waarmee gebreek moet word? ’n Lewe in gehoorsaamheid aan God voorkom baie ellende en swaarkry. Kom ons beywer ons vir goeie verhoudinge, wedersydse respek, liefde en omgee, geregtigheid, regverdigheid en mededeelsaamheid. Kom ons doen ons deel om van grondhervorming ’n sukses te maak, ongelykhede reg te stel en rassespanning te verminder.
Maar lyding is nie nét, óf selfs nie altyd die gevolg van iemand se eie sonde nie.
2.2 Daar is ’n tweede moontlike pad waarlangs lyding kom: ander se sonde. Iemand anders drink te veel, steek op ’n blinde hoogte by ’n voertuig verby en bots kop-aan-kop met my voertuig. Ek verloor my arm én ’n geliefde in die ongeluk. Dis duidelik nie my skuld en sonde nie. Dis iemand anders se sonde en oortreding van verkeersreëls. Wanneer die samelewing die eienskappe vertoon waarvan ons in 2 Timoteus 3:2-4 lees, is lyding almal se voorland. “Mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie; hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.” Mense maak mense seer. Kinders dra soms swaar aan “generasie bagasie” – die pyn en seer wat van een geslag na die volgende oorgedra word. Kinders veroorsaak soms smart in die lewe van ouers. Werkgewers en werknemers maak soms die lewe vir mekaar ondraaglik. Stereotipering (die opvatting dat álle boere, álle swartmense, álle wit mense of álle werkers dieselfde is) kan ook daartoe lei dat onskuldige mense op een plaas aangeval word as gevolg van die optrede van ’n boer op ’n ander plaas of selfs iemand in die stad. Maar omdat hulle almal as “boere” gesien word, word enigeen wat tot dié groep behoort, as teiken vir wraak gesien.
2.3 Die derde moontlike pad is die gebrokenheid van die wêreld. Romeine 8:18 en verder, teken vir ons die prentjie van ’n skepping wat aan verganklikheid onderwerp is as gevolg van die eerste mense se sonde en ongehoorsaamheid. ’n Pap wiel; ’n weerligstraal wat die veld aan die brand steek; die slytasie of breek van toerusting; die verswakking van ’n ou mens; die vernietiging deur mot en roes, ensovoorts kan nie tot ’n spesifieke persoon se sonde herlei word nie. Die gebrokenheid word ook daarin sigbaar dat ons dikwels nie meer ’n keuse tussen goed en sleg het nie. Ons kan net tussen sleg en slegter kies. Dink aan die keuse wat baie moet maak: Om uit selfverdediging iemand dood te maak, of om self vermoor te word. Om te skei of om in die huwelik verrinneweer te word. Totdat die skepping bevry en verander word om te pas by die vryheid en heerlikheid van God se kinders, sal hierdie goed altyd pyn en lyding veroorsaak. Ons leef in ’n wêreld wat onvolmaak is en onvolmaak sal bly tot en met die wederkoms van Christus. Dan eers kom die nuwe hemel en die nuwe aarde (Openbaring 21:1) en sal daar geen vloek op enige iets meer rus nie (Openbaring 22:3).
2.4 Die vierde pad is medelye. Ons kies om die pyn en seer van iemand anders te help dra. Medelye is ’n Goddelike eienskap. Die Bybel is vol voorbeelde. “Maar as hulle nie luister nie, sal Ek in stilte huil oor hulle hoogmoed, Ek sal huil en huil, trane stort omdat my kudde as ballinge weggevoer word” (Jeremia 13:17). “As een lid ly, ly al die lede saam” (1 Korintiërs 12: 26). Dis soos driebeenresies. As jou maat val, moet jy ook stop, afbuk, optel, styf vasvat, ’n nuwe ritme kry en stadig weer saam-saam spoed optel. Ek ly vrywillig skade deur van my voer vir jou te gee nadat jou plaas afgebrand het. Ek “verwaarloos” my eie werk om na jou belange om te sien terwyl jy in die hospitaal lê. Dis wat die Here van ons verwag. “Wie medelye met ’n vriend beskou as ’n las, het die eerbied vir die Almagtige verwerp” (Job 6:14. 1983-Vertaling van die Afrikaanse Bybel). Ons Here verwag van familie en vriende om in hierdie tyd nader te staan en prakties te help soos destyds na Riaan-hulle se motorongeluk. Om dit vir ’n dag of twee te doen, is maklik. Om die pad saam te loop totdat almal wat geval het wéér op hul voete is, vra “commitment.”
2.5 Die laaste pad waarlangs lyding by my en jou arriveer, is vervolging ter wille van Christus. Die wêreld haat Hom en die Vader – sonder rede! Daarom haat hulle ons ook sonder rede (Johannes 15:18-27). “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12). Ek gaan later iets sê oor ons as boere se roeping. Maar onthou dat elke gelowige voltyds in diens van die Here is. Ons is geroep en gestuur om dissipels te wees en van almal rondom ons dissipels te maak. Net soos sendelinge wat geroep en gestuur is om in Moslemlande te gaan sendingwerk doen, is ons boere se roeping gevaarlik. Ook ons word soos skape tussen wolwe ingestuur (Matteus 10:16). Ons word gestuur na ’n wêreld wat Christus haat. Maar omdat hulle niks aan Hom kan doen nie, haal hulle dit graag op sy volgelinge uit. Geloof het nie altyd “good outcomes” soos in Hebreërs 11:1-35a nie. Soms het dit “bad outcomes” soos in Hebreërs 11:35b-39. Almal waardeer nie die feit dat ons vir hulle die goeie nuus van verlossing bring nie, net soos hulle dit nie waardeer dat God sy Seun gestuur het, of dat Christus ’n bitter duur prys vir ons verlossing betaal het nie (Jesaja 53). Ons durf nie die Evangelie ter wille van onsself aan mense verkondig nie. Wie dít doen, word diep teleurgestel. Verkondig die Evangelie ter wille van die eer van God en die redding van sondaars. Ons mag nooit ons lewe só liefhê dat ons nie bereid is om vir Christus te sterf nie (Openbaring 12:11). Mag elke Christen-boer in hierdie land saam met Paulus uitroep (vergun my om Paulus se woorde op ons as boere van toepassing te maak): “En nou gaan ek terug plaas toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat op die plaas met my sal gebeur, weet ek nie. Ek weet dat die Heilige Gees met elke plaasaanval vir my sê dat dit moontlik ook op mý wag. Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig” (Handelinge 20:22-24). Mag God dit verhoed, maar vrees mag ons nie laat ophou boer of stilbly nie. Om ter wille van Christus en ons roeping te ly en selfs te sterf, is ’n voorreg (vgl. Lukas 6:22-23; 1 Petrus 4:12-19). Kom ons sit die goeie werk wat Riaan gedoen het, voort.
Onthou: Dis meestal nie die een óf die ander pad waarmee lyding by my en jou opdaag nie. Lyding storm dikwels langs meer as een pad op ons af. Ons het die wysheid en onderskeidingsvermoë van die Gees nodig om te weet wanneer wat in ons situasie van toepassing is.

3. Hoe moet ons op lyding reageer? Wat moet ons reaksie wees?

Weereens gee die Skrif ’n meervoudige antwoord. Dis nie die een óf die ander nie, maar al drie reaksies gelyktydig: Gebruik, beveg, hoop (wees geduldig).

3.1 Gebruik jou lyding, terwyl jy dit ook beveg en geduldig bly hoop. God laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet (Romeine 8:28). Daarom kan en moet ek en jy God se medewerkers word. Toe Paulus, wat die gawe van gesondmaking gehad het (Handelinge 19:11-12), by geleent-heid in Galasië siek geword het, het hy die geleentheid gebruik om die evangelie aan die mense daar te bring (Galasiërs 4:13-14). Ons moet elke pyn-verleentheid in ’n groei-geleentheid omskep (Jakobus 1:2-5). Dis om tug
en dissipline as opvoeding te sien, dááruit te leer en tot groter gehoorsaamheid en heiligheid te groei (Hebreërs 12:4-12). Dis soos die twee ou donkies wat in ’n droë put geval het. Omdat hulle al oud en gedaan was, het die eienaar besluit om die put sommer as hul graf te gebruik en hulle net daar toe te gooi. Toe die eerste grond en klippe op hulle val, het die een donkie in selfbejammering gaan lê en die eienaar ’n laaste paar slegte woorde toegesnou. Gou was hy lewend begrawe. Die ander donkie het met moeite sy seer lyf geskud sodat elke graaf grond van sy rug afgeval het. Dan het hy met moeite op die grond geklim. Hy het die grond en klippe (sy pyn en lyding) as trappies gebruik om na vryheid uit te klim. In jou lyding moet jy beter word en nie bitter nie. Plaasaanvalle en droogtes is ’n pyn-verleentheid, maar ook ’n geleentheid om weer ons hart en motiewe te ondersoek. Dis ’n geleentheid om weer ons Goddelike roeping (waaroor ons later praat) ernstig op te neem. Dis ’n geleentheid om ons plaasveiligheid op te skerp, aan verhoudinge te werk, die Evangelie vanuit ’n ander hoek te lees. ’n Geleentheid om na te dink oor ons landbou-praktyke en na nuwe oplossings te soek, ensovoorts.
Na die moord op my broer het ek en Janetta in 1993 met die Amos-bediening begin. Dis onder andere hoe ons ons pyn-verleentheid in ’n groei-geleentheid omskep het. Ek het ook my smart verwerk deur ’n deeglike Woord-studie oor lyding te doen. Wat jy hier lees, is die vrug daarvan. Vra jouself af, watter groei-geleenthede is daar vir my en jou in hierdie tyd wat ons boere soos wild gejag word? Hoe kan ons beter in plaas van bitter word? Bitterheid is immers die gif wat jý drink in die hoop dat iemand anders sal doodgaan. Bitterheid benadeel net jouself. Vra jouself dus af: Hoe wil God hierdie ellende vir my ten goede laat wees? Werk dan met Hom saam. Onthou, sy eienskappe en sy karakter het nie verander nie.
3.2 Beveg lyding, terwyl jy dit ook gebruik en geduldig bly hoop. Lyding en swaarkry was nie God se oorspronklike plan vir die mens nie. Dis ook nie sy finale wil vir die mens nie (Klaagliedere 3:31-33). Lyding móét sovêr moontlik beveg en bestry word, want op een of ander manier probeer Satan om ons lewe hel te maak, terwyl God se begeerte vir ons hemel op aarde is (Matteus 6:10). Daarom het Hy sy Seun gestuur om deur sy lyding, sterwe en opstanding, ons van ons lyding te verlos. Christus se opstanding is God se JA vir die lewe en sy NEE vir die dood. Christus se opstanding maak ons opstandig teen alle vorme van lyding.
Die eerste en belangrikste manier om lyding teen te werk, is gehoorsaamheid aan God: ’n Heilige lewe! Lyding kan en moet ook op vele ander maniere beveg word: gebed (ook die gawes van gesondmaking), ’n gesonde leefstyl, wetenskaplike navorsing, mediese sorg en landbou-tegnologie, mooi verhoudings, versekering, probleemoplossing, ensovoorts.
3.3 Bly geduldig hoop, terwyl jy lyding gebruik en beveg. Hoop is om lyding te verdra (2 Timoteus 4:5; Hebreërs 12:4-12), sonder om passief te raak en ’n slagoffer-mentaliteit te hê wat sê: Arme ek, ek kan daar niks aan doen nie.
Lyding is en sal met ons wees tot en met die wederkoms van Christus. Eers met die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde sal al ons trane afgedroog word. “Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Dan eers sal God alles nuut maak (Openbaring 21:5). Lyding se dae is getel, dis min. Daarom kan en moet ons geduldig wees. Daarom kan en moet ons met hoop leef! Jesus het die dood oorwin (Openbaring 1:18).
Ek onthou nog hoe mense vir my gesê het dat ek die moord op my broer nét moet aanvaar, omdat dit God se wil was. My reaksie was: Hoe kan dit God se wil wees as Hy uitdruklik in sy Woord sê?: “Jy mag nie moord pleeg nie.” Deur hulle wou Satan my passief maak: “Moet niks doen nie, aanvaar dit net!” Wanneer ek en jy ons lyding gebruik en beveg, voorkom dit dat ons aanvaarding (om geduldig te bly hoop) van lyding passiwiteit word. ’n Stuk fatalisme: “What will be will be”. Wanneer ons ons lyding gebruik en geduldig bly hoop (verdra), voorkom dit dat ons stryd teen lyding in bitterheid ontaard wanneer ons nie alles nóú kan oorwin nie. Moet daarom nie ’n keuse maak nie. Doen al drie dinge gelyktydig: Gebruik, beveg en bly geduldig hoop/verdra.
Samevatting: Die Woord gee verskillende perspektiewe op lyding. Oppas, om nie een perspektief te vat en alle lyding op grond daarvan te verklaar nie. Dit werk nie. Aanvaar die Woord se meervoudige perspektief.

Roeping

Twee opmerkings oor ons roeping:
1. Die eerste en vernaamste roeping is: Oorgee, Omgee en Aangee.
Dis dié kenmerk van ’n dissipel van Jesus Christus. Dissipels is uitverkoop aan die Here, gee om vir mense en gee Jesus en sy Woord aan vir die wêreld.

Oorgee aan God

  •  Gered deur te glo Handelinge 16:31
  •  Gedoop Handelinge 2:38
  •  Gehoorsaam Lukas 6:46
  •  Gemeenskap met God (sinvolle stiltetyd) Handelinge 2:42
  • Gevul met die Gees Galasiërs 5:25

Omgee vir

  •  Gelowiges en ongelowiges Galasiërs 6:10
  • Geestelike en fisiese nood van mense Jesaja 58:6-12

Aangee vir die wêreld (Jesus en sy Woord)

  • Gedrag: deur jou lewe en voorbeeld 1 Johannes 2:6
  •  Gebed: bid vir ongeredde mense en wêreld Matteus 9:35-38
  •  Getuig: deur die Evangelie te deel Handelinge 1:8
  •  Gee: bydraes vir Koninkryk, sending en kerk 3 Johannes:5-8
  • Gelowiges toerus vir dienswerk 2 Timoteus 2:2
  • en om ander te leer

Oorgee, Omgee en Aangee is meer as ’n doenlysie. Dis ’n lewenswyse. Om dissipels te maak is Jesus se laaste opdrag aan elke Christen, ook aan elke boer en plaaswerker wat in Hom glo. Elke Christen is voltyds in diens van die Here, ongeag in watter beroep hy staan.
Elke keer wanneer ons weer die trauma van ’n plaasaanval moet verwerk, word daar aan ons roeping gekarring. Gaan ek aanhou doen wat ’n dissipel doen, selfs wanneer dit lewensgevaarlik word? Of gaan my liefde vir God en vir mense met elke plaasmoord afkoel en uiteindelik ’n stille dood sterf (Matteus 24:12)? Onthou, al wat ons hoef te doen vir die duisternis om oor te neem, is om op te hou om die lig te wees. Duisternis is niks. Dis net die afwesigheid van lig. As jy dus die stemmetjie hoor wat sê: Dit werk nie! Los dit!, dan moet jy weet dis nie die stem van die Gees nie. Die Woord wat deur die Gees geïnspireer is sê in 1 Korintiërs 15:58 op grond van Jesus se opstanding: “Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here, nie tevergeefs is nie.” Daar gaan eendag mense in die hemel wees wat God loof en prys vir die werk wat Riaan Scheepers en baie ander boere, ook jy gedoen het!

2. Die tweede roeping van boere is om mense die goedheid van God te laat proe!
God wil Homself aan mense as die Voorsiener openbaar (Genesis 22:14). Hy wil in hulle behoeftes voorsien en vir hulle sorg. Maar God werk deur mense. Hy roep ons as landbouers om kos te produseer sodat mense sy goedheid en sorg op ’n tasbare manier kan proe. Kom ons hou dus aan om genoeg voedsame en gesonde kos te produseer, ook vir hulle wat ons beledig, haat en doodmaak (Lukas 6:27-28; Spreuke 25:21-22). Wie weet, as ons vir hulle bid en hulle ervaar hoe goed God is, kom hulle moontlik in groot getalle tot bekering (Romeine 2:4). Kom ons wees tot seën vir ons land en al sy mense, al word ons soos wild gejag. As ons aan ander begin doen wat hulle aan ons doen, is ons niks beter as hulle nie (Matteus 5:43-48).
Vriende, met hierdie brief wou ek sommer my hart deel en julle aan ’n paar sake herinner. Ek vertrou dat die Gees julle sal vertroos en aan julle sal openbaar wat julle nou moet weet en onthou. Ek bid dat julle Goddelike wysheid sal ontvang om die regte besluite vir die pad vorentoe te neem en dat julle verantwoordelike keuses sal maak.
Mag julle geseënd wees in die uitleef van julle roeping om dissipels te maak en kos te produseer. Mag die Here van Nuwejaar tot Oujaar vir julle sorg en vir julle reën op die regte tyd gee (Deuteronomium 11:11-12). Mag Hy spoedig die situasie en die mense in ons land verander. Mag sy wil geskied en sy Koninkryk kom! Mag daar baie en blywende vrug op julle almal se arbeid wees.
Deel gerus hierdie brief met ander landbouers in jou netwerk.
Lees ook AMOS se amptelike standpunte oor haatspraak en plaasmoorde.

Daar is veel meer op my hart, maar die tyd ontbreek om nou oor alles te skryf.
Groete. Boer voor die Troon.
Hennie Viljoen
083 233 4433
hennie.viljoen@amosafrica.net

Laai die volledige brief af in PDF, deur hierdie vorm te voltooi:


Jou Naam en Van (vereis)

Jou Epos adres (vereis)

Jou Provinsie(streek) (vereis)

 

Related Post