AMOS VERJAARSDAG – 23 Jaar

13 Augustus 1993 het die Here Hom oor my en Janetta ontferm en die Amos-bediening aan ons toevertrou (2 Korintiërs 4:1).  Op daardie besondere Vrydag was Tredoux Willemse, Vincent Prinsloo, Niekie Cronje en Allan Liddle saam met my en Janetta op die plaas Swartwater in die Memel distrik.  Teen laat namiddag het ons geweet:  AMOS se roeping was en is steeds:  Elke plaas vir Christus.  God se boer en God se mense op God se grond, tot God se eer.  Mans, vroue en kinders moet die geleentheid kry om Jesus Christus persoonlik te leer ken en Hom as Verlosser en Koning te aanvaar.  Elkeen moet met die hart glo, met die mond bely en met die daad bewys dat Christus 24/7 hulle Here is.  Afrika moet homself voed.  

 

Vandag staan ons in verwondering en aanbidding as ons sien wat die Here die afgelope drie en twintig jaar gedoen het.  Ons dank Hom vir Frans Sekhoto wat as jong seun destyds in die tuin gewerk en later die eerste Woordelose Boekies met spuitverf gemaak het.  Vandag is Frans die hoof-visiedraer van Amos Sentraal (Vrystaat en Noordwes).  Ons dank die Here vir JB Wessels wat vroeg in 1995, terwyl hy plase in Markuskraal by Citrusdal bedien het, deel van die Amos-bediening geword het.  Sy bydrae, as hoof-visiedraer van Amos Kaap, om die landbougemeenskap in die Wes-Kaap te transformeer, is onberekenbaar.  Dankie Frans en Ouma.  Dankie JB en Alta.  Dankie aan leiers en medewerkers in Namibië, Zimbabwe, Zambië en Uganda.  Dankie aan Brain Oldreive en Foundations for Farming vir wat julle in baie lande doen.  Dankie Boet en Celia Pretorius vir julle toewyding om Afrika te dien.  Ons waardeer julle almal!

 

Dankie aan alle personeel en elkeen van julle wat op een of ander wyse medewerkers geword het, nie noodwendig van AMOS nie, maar in die Koninkryk en van die visie Living and Farming God’s Way.  Ons waardeer julle gebede, julle dienswerk, getuienis, volharding, bydraes, aanmoediging en veel meer!  God werk deur julle.  “Daarom liewe broers (en susters), wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie” (1 Korintiërs 15:58).

 

Hierdie naweek kom meer as 50 mense op Verlateput bymekaar vir ons kwartaallikse bid-en-vas geleentheid.  Maar dié naweek gaan dit meer bid-en-fees as bid-en-vas wees.  Ons wil Hom uit Wie, deur Wie en tot Wie alle dinge is, aanbid, loof en dank.  Wat ’n voorreg om deel te kan wees van sy werk in die landelike en boerdery-gemeenskap.

 

Ek seën jou in die Naam van Jesus!

 

Boer voor die Troon

Hennie Viljoen

Related Post