Dag 39 – Here, posisioneer my vir intimiteit met U

Lees:    Markus 1:32-39, asook Lukas 5:16 en 6:12

Bid:            Here, posisioneer my vir roepingsvervulling, intimiteit met U en finansiële vryheid.

As jy net gou iets van die Vader wil hê, kan jy dit sommer met ’n kort skietgebedjie vra.  Daar is talle sulke voorbeelde in die Bybel (Nehemia 2:4, 4:4, 5:19, 9:9b en 14, Lukas 18:13 en 23:42, asook Johannes 11:41-42).  Maar intimiteit met God is iets anders.  Intieme verhoudings vra kwaliteit-tyd vir goeie kommunikasie om mekaar werklik te leer ken en te vertrou.  Jy kan nie ’n intieme verhouding met iemand bou as jy altyd aan die hardloop is nie.  Net so kan jy nie met net skietgebede in ’n oorvol program ’n intieme verhouding met God bou nie.  Jy het eers ’n intieme verhouding met God nodig, en op grond daarvan kan jy dan enige tyd ook kort skietgebede bid.

Jesus het gereeld lang tye in gebed met die Vader spandeer.  Sy gebede was beslis nie net lang lysies van sy onmiddellike behoeftes of ’n eindelose herhaling van woorde nie.  Die feit dat Hy gedurig in gesprek met sy Vader was, dui op sy behoefte aan intimiteit met sy Vader.

Ek en jy moet voor die troon boer, nie net omdat ons baie goed wil hê nie, maar ter wille van ’n intieme verhouding met ons Vader.  Intimiteit het te doen met die vreugde en opwinding om in God se teenwoordigheid te wees. Dit gaan oor ’n persoonlike verhouding met Hom.  Intimiteit veronderstel dat jy en die Vader alleen in gesprek is, dat julle met mekaar praat en na mekaar luister.  Dat julle jou karakter en jou roeping sal bespreek.  Dat jy Hom ook sal leer ken soos Hý werklik is – sý aard en karakter.  Hoe langer ons in sy teenwoordigheid en geselskap verkeer, hoe meer sal ons soos Hy begin dink en optree.  Hoe meer sal ons die beeld en karakter van God begin vertoon.

Boer voor die troon met die versoek dat die Here jou voortdurend sal posisioneer vir intimiteit met Hom.  Vra Hom om jou kop en jou lyf te skuif.  Vra Hy moet jou nuut laat dink oor intimiteit met Hom en die noodsaaklikheid om ook gereeld langer tye in gebed deur te bring.  Vra Hom ook om alles wat nodig is te verander sodat jy van tyd tot tyd ’n paar uur alleen met Hom kan spandeer, of selfs ’n dag of wat in vas en gebed kan deurbring.   Ek en jy het dit só nodig.

 

Gebed:      Here God, haal my uit die gejaagdheid van die lewe en haal ook die gejaagdheid uit my uit.  Posisioneer my vir groter intimiteit met U sodat ek U al beter sal leer ken, u beeld al meer sal vertoon, meer vrug sal dra en meer vreugde daarin sal vind om voor u troon te boer.

 

Boer voor die troon met die gebed dat die HERE dwars oor Afrika die landbougemeenskap al meer ook ’n biddende gemeenskap sal maak.  Bid vir groter intimiteit met Hom, sodat sy beeld en karakter al meer in ons almal sigbaar kan word.

 

Bid vir Afrika:    Fokus op die landbougemeenskap in Seychelle en Madagaskar.

Om die voledige gebedsfokus af te laai voltooi die vorm hier onder:


Jou Naam en Van (vereis)

Jou Epos adres (vereis)

Jou Provinsie(streek) (vereis)

Om die voledige Boer voor die Troon – Handleiding vir Gebed af te laai voltooi die vorm hier onder:


Jou Naam en Van (vereis)

Jou Epos adres (vereis)

Jou Provinsie(streek) (vereis)

Related Post