Dag 38 – Here, posisioneer my om my roeping te vervul

Lees:    Johannes 17:4, asook Handelinge 20:24 en 2 Timoteus 4:7

Bid:            Here, posisioneer my vir roepingsvervulling, intimiteit met U en finansiële vryheid.

Beide Jesus en Paulus kon terugkyk op hulle lewe en met dankbaarheid sê dat hulle hul roeping vervul het.  Maar wat van my en jou?

Eerstens moet ons onthou dat elke Christen geroep is om voltyds in diens van die Here te wees, in watter beroep of in watter omstandighede hulle hulle ookal mag bevind.  Sommige Christene word nie geroep vir voltydse diens en ander vir deeltydse werk nie.  Selfs wanneer jy boer of met jou hande werk, is jy voltyds in diens van die Koning (Kolossense 3:17 en 3:23-24), nie net wanneer jy ’n dominee of pastoor is nie.  Deur sy Gees maak God mense bekwaam, nie net om te preek nie, maar ook om vaardig met hulle hande te wees (Eksodus 35:30 tot 36:1, asook 36:8).  God leer ook sý boere hoe om suksesvol te boer (Spreuke 27:23-27 en Jesaja 28:23-29).

Daar is soveel uitdagings in die landbou.  Daar is soveel nood op die platteland.  Daar is soveel nuwe dinge wat die Here wil openbaar.  Daar is soveel aspekte van sy Koninkryk wat in die landbou sigbaar moet word.  Daar is soveel verhoudings wat herstel en gebou moet word.  Dit is alles die werk van die Here.  Hy roep gewone mense, landbouers soos ek en jy om dit vir Hom te doen.  Maar dan moet ons uit ons gemaksones kom.  Ons gemaksones hou ons weg van ons roeping af.  Daarom moet God ons (her)posisioneer vir roepingsvervulling.

Jy moet elke dag jou roeping vir daardie dag vervul, anders sal jy nie aan die einde van jou lewe kan terugkyk en sê dat jy die lewenstaak wat God jou gegee het, vervul het nie.  Daarom moet jy ook met hierdie gebed voor die troon boer, want roepingsvervulling is nooit ’n afgehandelde taak voor jy die dag jou kop neerlê nie.

Wanneer God jou posisioneer vir roepingsvervulling, doen Hy gewoonlik twee dinge:  Hy skuif jou kop en Hy skuif jou lyf. Vra Hom om dit te doen.  Vra dat Hy jou denke sal verander en jou nuwe oë sal gee om anders na dinge te kyk.  Miskien laat Hy jou radikaal nuut dink, of miskien gee Hy jou net ’n nuwe perspektief op iets klein.  Miskien wys Hy jou net iets wat jy nog altyd misgekyk het.  Vra Hom ook om jou lyf te skuif na die plek waar Hy jou nóú wil gebruik.  Dalk is jy op die verkeerde plek, en/of in die verkeerde beroep, en/of tussen verkeerde mense en/of vasgevang in beperkende omstandighede.  (Ek bedoel nie dat die plek, beroep, mense of omstandighede sondig is nie, maar net dat dit nie die plek is waar die Here jóú nóú wil gebruik nie.)  Dalk skuif Hy jou baie ver, dalk net ’n paar meter.  Dit maak nie saak nie, wees net gehoorsaam en skuif.

Die Here het my en ons familie al ’n paar keer herposisioneer en elke keer het dit ons gehelp om ons roeping beter te vervul.  In die proses het ek een ding geleer:  Ek is veiliger binne die wil van die Here as in my eie gemaksone (comfort zone).

 

Gebed:      Vader, ek wil elke dag my roeping uitleef en baie vrug dra.  Skuif my voortdurend na die plek en bepaal daagliks die omstandighede waarin ek dit die beste kan doen.  Neem my vrees vir verandering weg.

 

Boer voor die troon met die gebed dat die HERE jou en jou familie sal posisioneer vir roepingsvervulling.  Bid dat Hy julle uit julle gemaksone sal haal sodat julle meer diensbaar in sy Koninkryk kan wees en baie vrug kan dra.

 

Bid vir Afrika:    Fokus op die landbougemeenskap in Tunisië en Libië.

Om die voledige gebedsfokus af te laai voltooi die vorm hier onder:


Jou Naam en Van (vereis)

Jou Epos adres (vereis)

Jou Provinsie(streek) (vereis)

Om die voledige Boer voor die Troon – Handleiding vir Gebed af te laai voltooi die vorm hier onder:


Jou Naam en Van (vereis)

Jou Epos adres (vereis)

Jou Provinsie(streek) (vereis)

Related Post