Dag 37 – Gebed om geloof

Lees:    Eksodus 3:14 en Numeri 23:19, asook Markus 11:22-24

Bid:            Here, help my om te glo dat U is wie U sê U is.
                    Help my om te glo dat U steeds kan doen wat U in die verlede gedoen het.
                    Help my om te glo dat U alles kan, wil en sal doen wat U belowe het.

Ons word uit genade, alleen deur geloof in Jesus Christus gered (Handelinge 16:31; Efesiërs 2:8).  Ons word vrygespreek omdat ons glo (Romeine 1:17 en 3:28; Galasiërs 2:16).  Deur die geloof ontvang ons die Heilige Gees (Galasiërs 3:14) en ons oorwin die sondige wêreld deur ons geloof (1 Johannes 5:4).  Wanneer ons in geloof volgens God se wil bid, ontvang ons wat ons ookal vra (Markus 11:24; Hebreërs 11:6; Jakobus 1:6).  Dit alles beteken dat ons deur geloof lewe, en nie deur dit wat ons sien nie (2 Korintiërs 5:7).  Daarom was die Satan se aanslag op die vernietiging van Petrus se geloof gerig, en daarom het Jesus gebid dat Petrus se geloof hom nie sal begewe nie (Lukas 22:32).  Dit is dus baie duidelik hoe belangrik geloof is.  Kan ek en jy dit bekostig om nie oor ons geloof te bid nie (vgl. Markus 9:24)?

Ek het reeds by dag 14 iets oor geloof en gebed gesê.  Kom ons word nou net 'n paar oomblikke stil en beantwoord die volgende vrae baie eerlik:

  1. As jy vas glo dat God werklik is wie Hy sê Hy is, hoe sal dit jou lewe verander?
  2. As jy vas glo dat God volkome in staat is om alles te doen wat die Bybel sê Hy al gedoen het, hoe sal dit jou lewe verander?
  3. As jy 100% oortuig is dat God alles kan, wil en sal doen wat Hy in sy Woord belowe, hoe sal dit jou lewe verander?

Ek moet erken:  My lewe wys dat ek sukkel om hierdie dinge te glo.  Ek het my eie menslike idees oor God.  Ek bely maklik meer oor God as dit wat ek werklik glo.

Dit waarmee ek die meeste worstel is my ongeloof en die vernietigende gevolge daarvan.  Daarom boer ek voor die troon met hierdie gebedEk móét eenvoudig kinderlik glo dat hierdie drie dinge van God waar is, want as ek dit nie glo nie, wat bly oor?  Dis alles of niks.  As ek eers die deur op 'n baie klein skrefie vir ongeloof oopmaak, sal ongeloof soos 'n stormwind die deur heeltemal oopruk en alles wat ek nog glo, omwaai. Here, help my om te glo!

Kan jy bekostig om nie met hierdie gebed voor die troon te boer nie?

 

Gebed:      Here, dat ek glo, is aan U te danke.  Bewaar my van ongeloof en help my om U kinderlik te glo.  U is in alles betroubaar en U kan nie lieg nie.  Dankie vir dié sekerheid.

 

Boer met die gebed om geloof voor die troon in belang van die Kerk van Jesus Christus in Afrika.  Ongeloof, bygeloof en heidense tradisies ondermyn die krag, effektiwiteit en getuienis van die Kerk.

 

Bid vir Afrika:    Fokus op die landbougemeenskap in Djiboeti en Eritrea.

Om die voledige gebedsfokus af te laai voltooi die vorm hier onder:

Jou Naam en Van (vereis)

Jou Epos adres (vereis)

Jou Provinsie(streek) (vereis)

Om die voledige Boer voor die Troon – Handleiding vir Gebed af te laai voltooi die vorm hier onder:

Jou Naam en Van (vereis)

Jou Epos adres (vereis)

Jou Provinsie(streek) (vereis)

Related Post