Dag 32 – Boer voor die troon

DEEL 4 – DRIE GEBEDE OM VOOR DIE TROON MEE TE BOER

Lees:    1 Tessalonisense 5:17

Die landbouvertaling van 1 Tessalonisense 5:17 is:  Boer voor die troon!  Daar is veral drie kort gebede wat ek sonder ophou bid wanneer ek voor die troon boer.  Ek bid dit feitlik daagliks.  Dikwels selfs 'n paar keer per dag.  Waarom?  Sodat God mý uiteindelik sal hoor?  Beslis nie!  Voordat ek praat, weet Hy tog al wat ek gaan sê (Psalm 139:1-4).  Ek bid dit by herhaling sodat ek Hóm uiteindelik sal hoor.  Jy sien, God praat gedurig met sy kinders, maar ons lewe so vinnig dat ons Hom nie mooi hoor nie.  Ons leef in die tyd van blitsvinnige elektroniese kommunikasie en snelvervoer.  Tussen radio's, CD's, TV's, DVD's, iPod's en selfone het stilte uit baie mense se lewe verdwyn.  Dié goed is oral:  in ons slaapkamers, voertuie en sakke.  Gevolglik het ons soos radio's geword wat nie op die regte golflengte ingestel is nie.  Die uitsending vind plaas en die kwaliteit daarvan is uitstekend, maar ons ontvang nie die seine nie.  Ons is nie ingestel (tuned in) op God nie, daarom mis ons dit wat Hy ons wil wys en leer.  Ons weet nie wat Hy wil hê ons moet doen of wees nie.

Veral die eerste van hierdie drie gebede het my baie gehelp om sensitief te wees vir dit wat die Here in my lewe wil doen.  Dié gebed lui as volg:

Here, wys my wat ek vandag moet sien;
Leer my wat ek moet weet;
Sê vir my wat ek moet doen, en
Maak my wat ek moet wees, u Beeld!  

Hierdie gebed is 'gevaarlik'.  Dit haal jou uit jou gemaksone (comfort zone). Dit gee aan God die geleentheid om die agenda tussen jou en Hom te bepaal.  Met hierdie gebed gee jy aan Hom die geleentheid om met jou te praat oor sake waaraan jy nooit self dink nie. Ek daag jou vandag uit om met hierdie kort gebed voor die troon te boer.  Dit sal jou sensitief maak vir God se stem.  Dit sal jou lewe verander!  Dit sal jou lewe nuwe sin en betekenis gee.  Dit sal die sprankel en opwinding in jou verhouding met God terugbring.

Jý het net een lewe, jý moet die beste daarvan maak!  Jý moet in jou lewe belê (nie net in die bank nie).  Jý moet seker maak dat jou lewe vrugbaar en van betekenis is.  Die lewe wat jy uit die hand van God ontvang het, is te kosbaar om dit op waardelose dinge te verkwis.  Boer voor die troon met hierdie paar woorde en kom daagliks op God se agenda vir jou lewe (vgl. Efesiërs 2:10 en 5:15-17)!

 

Gebed:      Vader, help my om nie net te bid oor mý behoeftes en begeertes nie, maar om U die geleentheid te gee om ook met my te praat oor dit wat op U hart is.

 

Boer voor die troon met hierdie oggendgebed.  Bid dit opreg vir jouself, jou familie en vriende, asook jou personeel en gemeenskap.

 

Bid vir Afrika:    Fokus op die landbougemeenskap in Burkina Faso.

Om die voledige gebedsfokus af te laai voltooi die vorm hier onder:

Jou Naam en Van (vereis)

Jou Epos adres (vereis)

Jou Provinsie(streek) (vereis)

Om die voledige Boer voor die Troon – Handleiding vir Gebed af te laai voltooi die vorm hier onder:

Jou Naam en Van (vereis)

Jou Epos adres (vereis)

Jou Provinsie(streek) (vereis)

Related Post