Dag 21 – Dink nuut oor die talle opdragte om te bid: Dit gee ons ’n prentjie van wat moontlik is!

Lees:     Filippense 2:12-13

 

God het baie wonderlike eienskappe.  Een eienskap wat my altyd in dankbare aanbidding voor Hom laat kniel, is:  God maak dit altyd vir ons moontlik om sy opdragte uit te voer!  Hy gee wat Hy vra!  'Deur 'n leefstyl wat vol ontsag en eerbied vir God is, moet julle wys dat julle gered is.  Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!' (Filippense 2:12b-13.  Nuwe Lewende Vertaling).  Dis 'n waarheid wat ook van Genesis tot Openbaring oor en oor na vore kom.  In Genesis 1:26-28 gee God nie net opdragte aan Adam en Eva nie, Hy rus hulle ook toe met sy beeld, sy Gees en sy seën om dié opdragte uit te voer.  As ek terugkyk op my eie lewe, sien ek dit ook baie duidelik.  Elke keer as ek in geloof die eerste tree gegee het om te doen wat God sê, het Hy dit vir my moontlik gemaak om sy opdrag uit te voer.  Aan Hom al die eer!

As jy vanuit 'n ander hoek na hierdie waarheid kyk, beteken dit eintlik:  Elke opdrag in die Bybel is 'n belofte van wat God in my en jou lewe wil en kan doen.  Hy wek die begeerte in ons én gee ons die vermoë.  Al die opdragte en beloftes oor gebed in die Bybel, is soos die klein stukkies van 'n groot legkaart.  Saam teken dit vir ons 'n prentjie van wat moontlik is – van dié soort gebedslewe wat God vir my en jou begeer en daarom ook vir ons moontlik maak.  God se opdragte is bedoel om ons te help om die beste en gelukkigste lewe wat daar is, te hê.

In plaas daarvan dat ek die herhaalde opdrag om te bid as 'n swaar las sien, hoor ek daarin hoe bitter graag God wil hê dat ek gereeld met Hom moet kommunikeer.  Ek hoor dat Hy eintlik by my pleit om altyd alles van Hom te vra, omdat Hy só graag in antwoord op my gebede alles aan my wil gee.  Ek hoor:  God begeer om alles wat in Christus vir my beskikbaar is, in antwoord op my gebede aan my te gee, meer as wat ek kan dink of in gebed vra.

My vriend, gebed is 'n voorreg, nie 'n las nie.  Dit lê ons nie aan bande nie en mors ook nie ons kosbare tyd nie.  Dit open nuwe moontlikhede en voorkom 'n tydrowende gesukkel.  Dit maak die lewe makliker, nie moeiliker nie.  Dit bring hemelse seën na die plek waar ons woon, werk en boer.

Raak opgewonde oor die onbeperkte moontlikhede van gebed in plaas daarvan om moedeloos te raak oor die baie opdragte om te bid.  Gebed is immers gesprek met God, en niks is vir God onmoontlik nie (Jeremia 32:17).   Waar dit lyk of daar geen uitweg en geen oplossing is nie, daar is gebed steeds die antwoord (Psalm 50:15).  Wanneer jy geen krag en geen geld meer het nie, kan jy steeds bid.  Jy hoef nie wonderwerke te koop nie, jy vra dit net in gebed (Markus 11:22-24).  Jy hoef nie swaar te dra aan bekommernisse nie, want jy kan dit op jou knieë omruil vir 'n vrede wat niemand kan verstaan nie (Filippense 4:6).  Jy hoef nie hand in die hare te sit nie, want wysheid en goeie raad is beskikbaar as antwoord op gebed (Jakobus 1:5, Jeremia 33:3 en Psalm 32:8).  Wanneer ek en jy voor die troon boer, kom werk God by ons op die plaas.  Dan doen Hy tekens en wonders en allerhande kragtige dinge.

 

Gebed:      Here, skep elke dag in my hart 'n groter begeerte om meer te bid en leer my hoe om dit te doen.  Ek wil die traagheid in my gebedslewe oorwin.

 

Boer voor die troon in belang van groter eenheid en samewerking in die landbou.  Bid veral vir goeie samewerking tussen die regering en georganiseerde landbou, asook boere en plaaslike munisipale rade.

 

Bid vir Afrika:    Fokus op die landbougemeenskap in Soedan en Suid-Soedan.

Om die voledige gebedsfokus af te laai voltooi die vorm hier onder:

Jou Naam en Van (vereis)

Jou Epos adres (vereis)

Jou Provinsie(streek) (vereis)

Om die voledige Boer voor die Troon – Handleiding vir Gebed af te laai voltooi die vorm hier onder:

Jou Naam en Van (vereis)

Jou Epos adres (vereis)

Jou Provinsie(streek) (vereis)

Related Post